Rouel Beukes
- Resensies

<<-BACK

Nog ’n Afrika-opera ontvang lof in Swede

Nog ’n Afrika-opera is met hoë lof in die buiteland ontvang. Dié keer is dit Poet & Prophetess, gesamentlik op die planke gebring deur Kaapstad-Opera en Opera Umea in Swede.

Die opera het pas sy wêreldpremière in Umea beleef, gekomponeer deur Mats Larsson Gothe en die libretto deur Michael Williams, hoofbestuurder van Kaapstad-Opera. Die sukses vir ’n Afrika-opera gegrond op ’n Afrika-verhaal of -gebeurtenis volg op Mzilikazi Khumalo se Princess Magogo kaDinuzulu, wat die afgelope sowat agt jaar met groot welslae in die VSA en Europa deur Opera Africa op die planke gebring is.

Die verhaal van Poet & Prophetess is gegrond op die denkbeeldige ontmoeting tussen die 19-jarige Sweedse digter Bengt Lidner, gebore in 1757, en Jula, ’n slawemeisie aan boord van die Sweedse Oos-Indiese skip Terra Nova, onderweg na Canton om die Kaap die Goeie Hoop. Jula is die profeet, en Bengt is deur sy stiefvader gedwing om handlanger op die skip te wees.

In die opera vertel Jula van haar visie – die voorgeslagte sal opstaan om hul mense te red, en dat hulle hul vyande die see sal injaag nadat hulle hul eie diere doodgemaak en oeste afgebrand het. Die diere-episode is gegrond op ’n ware gebeurtenis soos voorspel deur Nongqawuse. Sy het die Xhosas aangemoedig om hul eie plaasdiere af te maai en só sal hulle die gehate witman uit Xhosaland verdryf. Oor watter kragte het Nongqawuse beskik dat sy konings en die ouderlinge van die stamme kon oortuig om hul eie diere en landerye te vernietig?

Vir die Sweedse première is talle buitelandse kritici genooi. Intussen was die resensent van die Sweedse Nasionale Televisie, Camilla Lundberg, in ekstase oor dié opvoering:

“Suid-Afrika en Noord-Swede: ’n Xhosa-meisie en ’n digter van die Gustaaf-era. Is dit versoenbaar? Vreemd genoeg, maar dit is. Meer nog, die resultaat is so na-aan ’n meesterwerk as jy kan ervaar. Die libretto en musiek is tegelyk poëties en boeiend, goeie inkleding en rolbesettings. Dit is nie dikwels dat al die komponente van ’n opera só harmonieus bymekaar uitkom nie.

“As ek dit só mag stel: dit is die beste Sweedse opera sedert Hans Gefors en Lars Forsell se werk oor koningin Christina 20 jaar gelede.

Poet & Prophetess gee jou hoendervleis, maar dit is nie goedkoop nie, dit stem jou tot nadenke, en dit ontroer. Gothe se musiek is fantasties.”

Die komponis is lank toegejuig en hy, die sangers en ander betrokkenes is telkens teruggeroep vir nog ’n buiging. Die opera word in Xhosa, Sweeds en Engels gesing.

Volgens Albert Horne, nuwe koormeester van Kaapstad-Opera, was die ontvangs in die Sweedse gedrukte media ook besonder gunstig.

Dié opera word einde Oktober ook in Kaapstad opgevoer.

Beeld Plus Apr 16 2008

Home | About us | News & Events | Enquiries | Orders | Payment Options | Performers | Photo Gallery | Productions | Reservations | Venue
Links | Contact us

Copyright © Hannie Hefer Promotions. All Rights Reserved (Designed and Powered by And Then Design Studio)