Beukes-arias eerstens waardevol
2010-07-29
Thys Odendaal
Rouel Beukes beskryf homself as ’n bas-bariton in die boekie by sy nuutste CD,
Famous Bass Arias, en dan begin dié lys bas-arias met ’n aria vir bariton – Figaro se
Non più andrai uit Mozart se
Le nozze di Figaro.
Heelwat later is hy weer terug by die Figaro-sage, maar dan as ’n bas in Rossini se weergawe – Don Basilio se knaend-prettige
La callunnia uit
Il barbiere di Siviglia.
Met “bas-bariton” word in alle waarskynlikheid dít bedoel: soms ’n bietjie meer bas, of ’n bietjie beter bariton, maar nou ja... Meestal kom dit neer op ’n bas met ’n goeie hoë register of ’n bariton met ’n goeie lae register.
Die rol van Leporello, soos Beukes hier in die
Madamina-aria uit Don Giovanni illustreer, is so ’n tussen-in-rol. Sarastro se twee
Zauberflöte-arias –
O Isis und Osiris en
In diesen heil’gen Hallen – is deur en deur vir die bas, met baie lae note.
Dit bring ’n mens tot die opname in die geheel. Hier het ’n mens te make met ’n begaafde sanger wat al uitstekende prestasies behaal en talle mylpale op operaverhoë bereik het. Daarom is dié opname meer as welkom: ’n Rekord van sekerlik een van die beste basse wat die land tot nog toe opgelewer het, sekerlik die afgelope kwarteeu of wat.
Omdat operasangers vandag feitlik uitsluitlik op hulself aangewese is vir hul voortbestaan – om dié arias soos dit hoort behoorlik met ’n orkes op te neem, is veels te duur – is al die snitte op die opname met
backtracks gedoen.
Dit maak dit moeilik om die sanger na behore te skat op grond van dié CD. Dié opname gee ons wel die stem soos dit nóú is en nie oor ’n lang tydperk nie.
Die ander aspek is die kwessie van klankewewig – tussen die stem en die orkes, waar die solis hiér, anders as op die verhoog, direk in ’n mikrofoon sing. Dit het ook betrekking op die tempo-keuses en in dié geval is die solis die slaaf van die onsigbare dirigent.
Dié soort lewelose opera word geïllustreer in die eerste aria, die
Non più andrai, ’n heerlike marsritme wat deur die digitale orkes baie langsaam gespeel word. Soos ’n mens Beukes as akteur ken, sou hy ’n veel vinniger tempo verkies het.
Daar is ook nog Verdi, soms swaar Verdi; sy Mefistofeles uit Faust; die jas-aria uit Bohème; die goud-aria uit
Fidelio; en ook Wagner –
Wahn! Wahn! Überall wahn!
Beukes is een van die waardevolste sangers in Suid-Afrikaanse opera. Sy pragstem getuig daarvan en daarby sy vertolkings ondanks die stremming wat onbuigsame orkesondersteuning meebring. Daarom is dié opname van besonderse waarde vir ons opera; ’n ryk herinnering.