Michelle Veenemans
- Resensies

<<-BACK

Woensdag 19 Oktober 2005
Beeld Plus

Veenemans imposant in haar vokale ‘Flair’

Flair: Veenemans
Musaion, Pretoria
Thys Odendaal

Kuns, of spesifiek operasang, is soos krieket. Jy kan ure lank in die nette oefen, maar die ware toets is op die kolfblad voor 'n skare. 'n Sanger kan die stem "opwarm", maar op die verhoog is jy stokalleen. Valstrikke is volop, ongeag die harde werk vooraf. Die verskil is, die sportman kan nie sy eie "program" kies nie. Die sanger wel.

Michelle Veenemans se keuse van die Olympia-aria uit Offenbach se Les contes d'Hoffmann is in die kol - sy sing dit uitstekend -maar dit is nié 'n aria waarmee 'n operakonsert ingelui word nie. Dit is tegnies te bedrieglik.

Dit slaag dalk vir een konsert, maar nie vir 'n ander nie. Dit is tog belangrik dat die eerste nommer 'n blywende indruk maak.

Sou sy Les oiseaux dans la charmille later in haar Flair-program gesing het, sou die skielike klanklose asemstoot nie gebeur het nie.

Die gedramatiseerde weergawes van die arias het origens puik verloop. Die baie gunstige indruk vroeër in Johannesburg het sy bevestig met haar vokalisering in die gunstiger Musaion. Benewens haar lang brugfraserings is haar koloratuur-werk kleurryk en deurdag. Sy is ewe bedrewe as Adele én Rosalinde in Fledermaus, met 'n uitdagende Csardas op die koop toe, kenmerkend van haar optrede in die geheel.

Paul Ferreira is 'n ideale stembegeleier vanweë sy orkestrale aanslag, maar dit beteken nie sy droogmakery is aanvaarbaar nie, soos veral in die Fledermaus-ouverture . Die "tussenspele" met Irene Tsoniff (viool) en Polina Burdukova (tjello) was te lank, kostuumsveranderings of te nie, met ma-sopraan Barbara wat smul-guitig toeligting tussendeur verskaf het.

Dit gaan die verstand te bowe dat Veenemans nog nie in 'n volwaardige opvoering gehoor is nie. (In ons mishoop-operabedryf nietemin geensins verrassend nie.)

 

Home | About us | News & Events | Enquiries | Orders | Payment Options | Performers | Photo Gallery | Productions | Reservations | Venue
Links | Contact us

Copyright © Hannie Hefer Promotions. All Rights Reserved (Designed and Powered by And Then Design Studio)