Vrydag 18 Februarie 2004
Beeld Plus
Sopraan sprankel
Michelle Veenemans
Montpellier, Parktown-Noord
Thys Odendaal
Michelle Veenemans is nie net 'n deksels goeie sanger nie, maar ook 'n eersteklas entertainer, so half op die ou manier waar operasterre hul bewonderaars met hul sang en allerlei geklets as 't ware uit die hand laat eet.
Dié blondekop-sopraan van Pretoria – die gene bruisend van talent wat sy van ma (Barbara) en tante (Leonore) gekry het – het 'n program van koloratuurarias saamgestel wat nogal selfvertroue en 'n porsie waagmoed kos, al is dit vir 'n restaurantkonsert.
Met Offenbach se Olimpia-aria het sy klaarblyklik nie veel moeite ondervind nie, en genoeg tyd gehad om die pop-karakter plek-plek te mimiseer. Waar haar staccato-koloratuur in Hoffmann beïndruk het, het haar swewende legato in Caro nome uit Verdi se Rigoletto eweseer die kol getref, vol passie en liefde op 'n Valentyn-vooraand. Haar Juliette was puik, met die bekende aria Je veux vivre gelaai met grasie in walstyd en jongmeisie-afwagting; ondenkbaar dat ons haar klaarblyklik nóóit in 'n volledige opvoering sal hoor nie. Arditi se Il bacio was vol koket-streke, knap gevokaliseer.
Laetitia Orlandi het die aand moedig die upright geklits, maar haar spel in Il bacio en die Juliette-aria was te gewigtig en smorend, met 'n ruk-ruk Fledermaus-tussenspel op die koop toe.
Nietemin, Veenemans se aand was 'n klein triomf!