Donderdag 24 Mei 2007
Beeld Plus
SoIiste bring diepgang van Stabat Mater oortuigend oor
Stabat Mater (Pergolesi)
Nazareth House, Pretoria
Gerrit Jordaan
Pergolesi (1710-1736) se Stabat Mater het verlede Sondag (20Mei) in die marmergehulde Nazareth House-kapel goed geklink. In dié intieme werk vir sopraan- en altsolo met strykerbegeleiding, kan Pergolesi se melodiese gawe as komponis duidelik gehoor word. Die klassieke Latynse teks verwoord die emosies wat die Moeder van Jesus beleef terwyl sy die teregstelling van haar Seun meegemaak het.
In hierdie uitvoering met Michelle Veenemans (sopraan) en Paul Ferreira (kontra-tenoor) as soliste, is die diepgang van die werk oortuigend deur die sangers gekommunikeer. Veenemans het geskitter in haar vertolking van die rol. Die definisie van klank (wat deurgaans ’n ligtheid besit) is ’n besondere aantreklike kwaliteit in haar stem.
Dit was verrassend om Paul Ferreira, wat as pianis dikwels saam met Veenemans te hoor is, in die altrol te hoor. Hoewel die twee sangers empaties gemusiseer het, verskil die twee stemkwaliteite drasties. Albei sangers se musikaliteit is te loof.
Die snaar-ensemble wat bestaan het uit 'n strykkwartet met klawesimbel, is bekwaam gelei deur Christo Burger. Die ensemble was soms aan die swaarvoetige kant – veral te hoor in frase-eindes deurdat die klawesimbel nie kontinuo gespeel het nie, maar die strykers verdubbel het. Die dissonant en terughoudingstyl wat telkens terugkeer in die werk, sou in ekspressie meer uitgebuit kon word.
Voor pouse het die koor, die Akustika Chamber Singers onder leiding van Christo Burger, gewyde werke gesing. Dit was veral lekker om hulle in dié vleiende akoestiek te hoor. 'n Mens sou tog van die talentvolle sangers meer musikale dryfkrag, aksentuering en meelewing verwag. Die tempokeuse vir Ukuthula was te stadig en het nie gehelp om die koor van detonasie te red nie. Met die toegif, in die spiritual Have you got good religion? het die jong koor begeesterd gewys waartoe hulle in staat is.