7 September 2008
Rapport
Paul Boekkooi
Michelle Veenemans – Bravura!
Leonore, Barbara en nou Michelle. Ons weet die Veenemans-vroue kán sing. Michelle, die jongste in die Veenemans-lyn, het ’n sonderlinge stem wat in positiewe sin selfs met “frats” beskryf kan word.
As koloratuursopraan skrik sy vir niks – daarom dat sy twee Mozart-arias takel waar bitter min dit sal waag, naamlik in K316 en K418. Tegnies verbreek hulle alle veilige norme en Michelle Veenemans skitter in dié uitdagings. Nie net het haar stem die vermoë nie, maar ook die durf en die dramatiese krag wat vereis word.
Tenore spog met hul hoë C’s. Hierdie sopraan bereik ’n A-mol bó daardie C. Ná die Mozart is die res van die program “makker”, maar sy laat dit nie so klink nie. Sy lewe gevaarlik, maar lewer die vokale goedere. Dis harde werk om na so ’n sopraan te luister, maar sy laat monde gewillig oophang.