Ware Mozart-ervaring
Theo Boekkooi
21 Augustus 2005
MUSIEKUITVOERING: Die Oos-Kaapse Filharmoniese Orkes (konsertmeester: Jürgen
Schwietering), die NMMU-kamerkoor en die Rhodes-universiteit se kamerkoor, asook
die soliste Zenneth Cibane (sopraan), Lucretia Geswint (alt), Lesley Speyers
(tenoor) en Hendré van Zyl (bariton). Dirigent: Péter Louis van Dijk. In die St.
Mary-katedraal, Port Elizabeth.
’n GEWYDE werk soos Mozart se Requiem in D mineur, K 626, kan nouliks met meer
atmosfeer uitgevoer word as in ’n katedraal. In Sondagmiddag se uitvoering van
dié aangrypende slotwerk van sy omvangryke oeuvre was daar selfs vir die
spreekwoordelike kerkmuis geen plek oor nie.
Hoewel Mozart gesterf het voordat hy die werk kon voltooi, het Süssmayr dit op
sy weduwee, Constanze, se versoek uiteindelik tot die slotnoot geneem, na
aanleiding van die komponis se sketsmatige aanwysings. As student en
vertroueling van die meester was hy onteenseglik een van die bekwaamstes vir dié
taak.
Die verenigde kamerkore, orkes en soliste onder die bekwame en inspirerende
leiding van Péter Louis van Dijk het nagenoeg volle reg laat geskied aan dié
hoogs emosionele werk, waardeur die toehoorders dan ook diep geraak is. Om
elkeen van die 14 dele te probeer beskryf, val uiteraard buite die bestek van ’n
nabetragting soos dié. Die sangsoliste se bydraes was individueel en as
kwarteteenheid hoogs smaakvol en stemtegnies afgerond. Zenneth Cibane se helder,
gefokuste sopraanstem het al in die Kyrie opgeval. Lucretia Geswint (terug uit
die VSA) se warm, ingetoë altkwaliteit het, indien moontlik, nog ryper geword.
Lesley Speyers het sy helder, liriese tenoorstem stylvol laat hoor en Hendré
van Zyl se pragtige, ongekunstelde timbre is uitmuntend geskik vir dié genre.
In byvoorbeeld “Tuba Mirum” het nie net hý nie, maar elkeen van die soliste,
asook die tromboonspeler Etienne Mecloen suiwer oorgekom. Net daarvóór het “Dies
Irae” in orkes- en koorgeledere die dramatiese impak gemaak wat met die
oordeelsdag gepaard gaan, terwyl die latere skrynende “Lacrimosa” feitlik
hartverskeurend op ’n mens afkom, te meer as jy bedink dat die genie Mozart se
lewensbloed tydens die skryf daarvan as ’t ware “gestol” en sy aardse bestaan
juis toe – veels te vroeg – tot ’n einde gekom het. ’n Mens snak na asem en word
in elke opsig stomgeslaan deur sy meesterskap op elke vlak!
Voor die pouse is die konsert geopen met sy Simfonie no. 25 in g-mineur, K 183
(1774), ’n heel opmerklike en besonderse jeugsimfonie van Mozart uit Salzburg.
Sonder om invloede van J.C. Bach (J.S. se jongste seun) en Haydn te ontken, is
die 18-jarige komponis hierin reeds selfstandig in sy tiperende eie styl
gevestig. Die Allegro con brio was presies dít: sprankelend, besig en opgewek,
veral in die vioolseksie. Die hobo’s, fagotte en horings het hulle allesbehalwe
onbetuig gelaat in die geheel, met vraag-en-antwoord-dialoog in die
ongekompliseerde Andante, waarop ’n lighartige Menuetto volg met verruklike
blasers in die Trio. Die slot-Allegro open met unisono strykers, waarby hout en
koper gou betrek word – tipies van Mozart. Saam met die Requiem was dit ’n
musiekervaring om dankbaar te onthou. |