| Matteus-passie met deernis vertolk
Die Burger
2008-03-18
Wayne Muller
KLASSIEKE MUSIEK: Matteus-passie van J.S. Bach. Die Camerata Tinta Barocca, die St. George-sangers en die Tygerberg Choristers onder leiding van Barry Smith. Met Lente Louw (sopraan), Mark Donnelly (kontratenoor), Arthur Swan (tenoor), Edward Hands (tenoor), Christiaan Snyman (bariton) en Hendré van Zyl (bas). In die Groote Kerk, Kaapstad.
NADAT Bach sy Johannes-passie gekomponeer het, het hy ’n paar jaar later die heelwat langer Matteus-passie die lig laat sien.
Laasgenoemde word in die algemeen as meer liries beskou as die Johannes-passie.
Al is die Matteus-passie iewat langer as drie uur, kla ’n mens nie oor die langs sit nie, want die musiek is strelend mooi.
Die uitvoering van dié werk Vrydagaand in die Groote Kerk is die eerste in byna ’n dekade, aldus die kerkmusikus en orrelis Barry Smith, wat as dirigent opgetree en vir ’n puik uitvoering gesorg het.
Bach se openingskoor, die dubbelkoor “Kommt ihr Töchter”, het myns insiens ’n magiese kwaliteit wat die stemming aandui van die werk in geheel en jou as ’t ware voorberei op die mooi musiek wat te wagte is.
Wat bygedra het tot dié magiese gevoel van die dubbelkoor is die kerk se wonderlike akoestiek, met die St. George-sangers voor en die Tygerberg Choristers agter op die orrelgalery. Die gehoor kon dus swem in die lieflike klank wat die twee kore geproduseer het.
Die St. George-sangers, wat deurgaans gesing het, het beïndruk met hul vol klank, goeie intonasie, en daarby puik artikulasie van die Duitse teks.
Dit alles was selfs te bespeur in die sagter dele waar die koor byna moet fluister. Daar is moeite gedoen om die fynere nuanses van elke koordeel voortreflik te vertolk.
Lente Louw se sopraanstem het deurgaans gestraal, en haar vertolking van die aria “Blute nur, du liebes Herz” het vir my veral uitgestaan.
Mark Donnelly, ’n Kanadese kontratenoor, het eweneens geïmponeer met ’n suiwer klank. In “Erbarme dich” – vir my die mooiste aria van die Matteus-passie – het Donnelly met ’n pragtig legato-lyn gesing. Ook sy “Können Tränen” was gevoelvol gesing.
Edward Hands, ’n Britse tenoor wat Judas en die tenoorsolo’s gesing het, het iewat gesukkel met hoë note, wat nie goed ondersteun was nie.
Arthur Swan verdien lof vir sy vertolking van die evangelis, wat regdeur die werk die passieverhaal met resitatiewe vertel – en nie eens kans kry om ’n aria te sing nie.
Die bas Hendré van Zyl het met sy ligte stem veral sy laaste aria, “Mache dich, mein Herze, rein” meevoerend gesing.
Christiaan Snyman se volronde baritonstem, en stylvolle sang het by my die meeste aanklank gevind. Hy het Jesus gesing en werklik die emosie in teks en musiek vir die luisteraar weergee. Dis ’n stem wat regdeur die omvang goed ondersteun en geprojekteer is.
’n Mens kan altyd goeie musiek verwag van die barokensemble Camerata Tinta Barocca, en Vrydagaand was geen uitsondering nie.
Trouens, al die musici wat opgetree het, het werklik gesorg vir ’n meevoerende uitvoering. |