Hendré van Zyl
- Resensies

<<-BACK

Koor en orkes lewer vars Bach-oratorium

Die Burger

Wayne Muller

KLASSIEKE MUSIEK: JS Bach se Kers-oratorium. Met die Filharmoniese Koor van Kaapstad en die Camerata Tinta Barocca onder leiding van Kåre Hanken en soliste Magdalene Minnaar (sopraan), Janelle Visagie (mezzosopraan), Nicholas Nicolaidis (tenoor) en Hendré van Zyl (bariton). In die Kaapse stadsaal.

BACH se Kers-oratorium bestaan uit ses kantates met verskillende temas. Hoewel die temas onderling verband hou, is dit tog afsonderlike dele, veral musikaal ­ge­spro­ke. Daarom is dié werk streng ­gesproke nie ’n oratorium nie, wat gewoonlik ’n liturgiese geheel vorm.

Dié Kers-oratorium is in 1734 gekomponeer vir die ses feesdae van Kersfees. Die musiek bevat talle koordele waarvan ­som­mige as kerkgesange bekend is. Van die musiek het Bach van elders geleen en hy herhaal soms ook musikale temas in die verskillende dele.

Donderdagaand het die Filharmoniese Koor van Kaapstad die eerste drie kantates uitgevoer wat, heel gepas, die Advent en geboorte van Jesus behandel.

Die koor het deurgaans goed gevaar en veral die duidelike uitspraak van die Duitse teks het beïndruk.

Die dirigent, Kåre Hanken, is ’n Noorse koormeester wat al met talle Suid-Afrikaanse kore gewerk het. Sy beheer oor die sangers is besonders.

Die soprane het ongelukkig onseker ­geklink in die koor “Er ist auf Erden”, waar hulle deurgaans alleen sing. Hoewel die tenore baie min is, kon hulle darem hul man staan teen die ander stempartye.

Die Camerata Tinta Barocca se begeleiding en vars spel was van ’n hoë gehalte. Veral die pragtige simfonie ter inleiding tot die tweede kantate was meelewend.

Die sopraan Magdalene Minnaar het ­ongelukkig min kans gekry om te sing – slegs ’n resitatief, ’n duet en in die ensemble aan die einde van die derde kantate. Haar helder stem was nogtans welkom.

Janelle Visagie het geïmponeer met puik legato-sang, veral in die mooi “Schlafe, mein Liebster”. ’n Mens kom geensins die registerbreuke in haar stem agter nie en dié repertorium pas haar boonop goed.

Nicholas Nicolaidis se tenoorstem was ­effens wankelrig in die hoë register, veral in die resitatiewe. Hy is ook geneig om oor sy konsonante te gly. In Engels sou dit dalk minder gehinder het, maar Duits het sterk konsonante wat beklemtoon moet word.

Hendré van Zyl se stem was soms te lig, maar hy het nogtans mooi gesing. Hy klink vir my soms soos ’n “lazy tenor”, ’n bariton met ’n ligte timbre wat met ’n bietjie harde werk sy stem na die tenoor-fach kan ­opskuif.

Home | About us | News & Events | Enquiries | Orders | Payment Options | Performers | Photo Gallery | Productions | Reservations | Venue
Links | Contact us

Copyright © Hannie Hefer Promotions. All Rights Reserved (Designed and Powered by And Then Design Studio)