Dinsdag 12 Julie 2005 bl. 4
Beeld
Plus
Cock, soliste en koor puik in 'Nelson-mis'
Thys Odendaal
Jhb Simfonie-koor 25
Linder, Parktown
Na Haydn word dikwels verwys as "die vader van instrumentale musiek", met verwysing na sy enorme invloed op die simfonie en kamermusiek. Dit stuur ongelukkig weg van sy inspraak in vokale musiek, in die jongste tyd opera, maar lank reeds religieus - deur sy oratoriums, met "Die Schöpfung" gewis die bekendste.
Dit is aan Richard Cock en die Johannesburg Simfonie-koor te danke dat hul 25ste verjaardagvierings ook 'n Haydn-koorwerk insluit, sy dramaties-opwindende Nelson-mis, beskrywend getitel "Missa in angustiis".
Soos altyd was Cock volkome tuis voor die musikale kragte - 'n "klassieke" orkes, die groot simfonie-koor en vier knap soliste.
Die Kaapstadse sopraan Beverley Chiat, wat in die noorde al so onvoorwaardelik gepresteer het in Orff se "Carmina burana" en as Gilda in Verdi se "Rigoletto" vir die Black Ties, het opnuut indrukwekkend gevaar, met suiwer artikulasie in koloratuurpassasies in haar oorheersende soloparty.
Die bariton Hendré van Zyl se stem klink nog jonk, maar sy stewige middel- en lae register het aan die basparty tog statuur verleen, met hope vokale belofte vorentoe.
Elizabeth Lombard se mezzo-timbre is ideaal vir dié mis. Nicholas Nicolaidis se klein bydrae was puik.
Hoewel die mansstemme in resonansie nie die vroue ewenaar nie, was die koor puik en trefseker.
Die eerste helfte het sonder die musikale gebeurlikheid van die mis ná pouse verloop.
Die musiek - die Midsomernagdroom-ouverture van Mendelssohn en Saint-Saëns se "show piece", die Klavierkonsert no. 2, is taamlik eendimensionaal vertolk . . . 'n dodelik metronomiese beskouing wat nie die opwinding van die talle klimaktiese passasies kon uitbuit nie. Baie traag.