Tenore is van Saturnus
Vrouens mag nou wel van Venus en mans van Mars wees, maar tenore is van Saturnus, vir seker! Operatenore was nog altyd eiesoortig. In ’n guitige opvolgvertoning borduur Coert Grobbelaar, self lid van dié spesie, op tenore se eienaardighede voort.
Die produksie bestaan uit vertelling en sang: ’n aria van Giordano en liedere van Schubert. Grobbelaar sluit ook gunstelinge uit die Napolitaanse liedskat soos “Torna a Surriento”, “Addio a Napoli” en “Non ti scordar di me” by die program in wat selfs by Jan Alleman byval behoort te vind.
“Tenore is van Saturnus” word op Sondag 18 September om 15:00 te Poolelaan 276, Raslouw, Centurion in die moderne en intieme LemonJack Teater aangebied. Die kaartjieprys beloop R200 en sluit ’n Italiaanse ete in wat vanaf 14:00 bedien sal word.