Huldeblyk
Petrus (Pieter) Roos
“The old order changeth, yielding place to new, And God fulfils Himself in many ways, I have lived my life, and that which I have done may He within Himself make pure! But thou, if you shouldst never see my face again, Pray for my soul!” (Tennyson…The king’s last farewell)
Met hierdie woorde stuur hy op 30 November 2006, bewus van sy eie broosheid en eindigheid, ’n kers- en nuwejaarswens aan al sy “koorkinders, vriende en musiekkollegas” van die destydse Transvaalse Jeugkoor, die Pieter Roos-koor en die Dibanani Adult Choir, vir 2007.
Hy skrywe – “almal van ons beweeg onverbiddelik in die toekoms in en elkeen van ons moet eendag sterf...” Swartgallig? Nooit nie! Optimisties en met die blik op die toekoms sal elkeen van ons, in die tyd vir ons beskore, ons mos met Groot Geloof uitstrek na dit wat in die toekoms wag! Ons beur vorentoe na ons eindbestemming... Elkeen doen mos wat sy/haar hand vind om te doen na die beste van ’n mens se vermoë’.
Vandag kan ons saam met sy familie eer gee aan God dat ‘Oom Pieter’ geleef het wat hy gesê het. Tussen die twee datums 06-05-1932 en 18-04-2008 het ’n man geleef! Hy het die keuse gemaak dat sý lewe ’n Godverheerlikende en mensverrykende lewe moet wees... en dat dit deur musiek moet geskied... “Musiek, subtiele, liggaamlose taal, ontsmet ons van aardse onheil, haal ons heelhuids op uit die geslote kring van tyd en ruimte...” (Elizabeth Eybers)
Só, met musiek wat hy eet slaap en drink, word sy lewe ’n uitroepteken al beurende vorentoe na sy eindbestemming, maar dan ’n lewe wat vele tot seën was! Na sy eerste graad in musiek aan Unisa in 1968, volg ook ’n Meestersgraad met lof in 1975 en doktoreer hy in 1983 met as navorsingstitel ‘Die benutting van Musiek in ’n Opvoedkundige Leidingsprogram’.
Pieter Roos was ’n pedagoog! Hy begin sy onderwysloopbaan in 1952 te Wepener in die Vrystaat en vele musiekposte by skole volg daarna. In 1966 word hy dosent in musiek by die destydse Heidelbergse Onderwyserskollege en daarna neem dit hom na die Goudstadse Onderwyserskollege (‘68) en later as Departementshoof van Musiek na die Windhoekse Onderwyserskollege (‘78). In die fleur van sy lewe word hy in 1971 Vakadviseur in musiek aan die destydse Transvaalse Onderwysdepartement en in 1972 stig hy die Transvaalse Jeugkoor wat later bekend geword het as die Witwatersrandse Jeugkoor. Met erns, passie en oorgawe bring hy jongmense in aanraking met komposisies van Brückner en Haydn en Handel en Mozart. Hy neem hulle op verhoë voor gehore en dirigeer hulle tot instrumente wat met stem kan sing - ‘soos ’n hert in dorre streke, smag my siel na U o God’, ‘Jesus Bron van al ons Vreugde’, ‘der Greiss’, ‘Green now the mountain’, ‘Home on the range’ en ‘o my lief engeltjie’... ja en ook ‘Shosholoza’. Hy is instrumenteel daarin dat sangers en gehore ‘heelhuids’ uitgelig word ‘uit die geslote kring van tyd en ruimte’, maar hy leer ook ’n volkie hier aan die suide dat die lewe en musiek meer is as maar net die ‘fiet-fôt van vastrap en setees’ (alias Wilma Stockenström uit: Goewermentsmusiek).
In 1995 word die Pieter Roos-Koor gestig – ’n koor wat saamgestel word uit oud-koorlede van die Transvaalse Jeugkoor. Musiek bind mense saam, maak hegte bande, maak mense familie van mekaar en hoe dan anders dat hy die dirigent van die koor word? Hy was altyd vir almal ’n pa, ’n rolmodel, ’n steunpunt en ’n vriend. Daarop volg die Dibanani Adult Choir in 1999 en neem hy dié koor as dirigent in 2000 na Hongarye en Oostenryk.
Terwyl hy vormend en verrykend as opvoedkundige jongmense se lewe aanraak en gehore plesier gee, lei hy vir jare as orrelis, Sondag na Sondag, gelowiges in hulle lofprysing en aanbidding tot God in o.a. Vanderbijlpark Moedergemeente, Aasvoëlkop in Northcliff en Pionierspark in Windhoek. Met sy aftrede lei hy ook in Kleinmond die plaaslike kerkkoor.
Hy tree af op Bettysbaai, maar steeds soek en vind sy hande iets om te doen. Hy bedryf vanaf 1995 ’n gastehuis en hy lewer ’n stewige bydrae tot die toerisme-bedryf in die omgewing. Met sy hartlikheid, skerp waarneming en gasvryheid, ontvang hy vriend en vreemdeling, ontvang hy wat aan hom gegee word, maar gee hy dubbel soveel terug.
Langs die see dink hy, filosofeer hy en hou hy nabetragting ... en stuur hy aan sy ‘koorkinders’ in sy genoemde nuwejaarswens ’n aanhaling van Kahlil Gibran: 'For what is it to die but to stand naked in the wind and to melt in the sun? And what is it to cease breathing but to free the breath from its restless tides … that it may rise and expand and seek God unencumbered? Only when you drink of the river of silence shall you indeed sing. And when you have reached the mountain top, then you shall begin to climb. And when the earth shall claim your limbs, then shall you truly dance.'
Dans, Oom Pieter! Jy het met musiek vir jou en ons geskaar by die engele wat gesing het met die skepping en die herskepping en ons is wagtend op die basuin van die trompet van God, wanneer Sy Koninkryk, ons toekoms, ons eindbestemming, finaal sal aanbreek!
Ons staan met deernis rondom sy vier kinders, dertien kleinkinders en vyf agter kleinkinders.
Theunis Botha
Koorlid: Transvaalse Jeugkoor 1974
Predikant Stellenbosch-Welgelegen